Lina
Spies - Uit Dagreis
Lina Spies | Stokperdjies | Werke | Outeurs
UIT DIE BUNDEL DAGREIS, 1976
D.J. OPPERMAN
15 Februarie 1976
Wild men who caught and sang the sun in flight,
And learn, too late, they grieved it on its way,
Do not go gentle into that good night.
(Dylan Thomas)
Die kort reis na Carrara afgelê,
al die gramadoela-togte deur die land,
is dit die tyd vir God
om in ‘n moerbeiboom se ligkolom
jou te ontmoet?
Maar oral word dit donker
as daardie oermoeras jou in hom terug wil suig,
en jou verloste engel moet weer staan
in die koue kaggel van my hart,
glansend en toornig in die klopboog
om al my woorde wat tot as vergaan.
Jy mag nie nou tot riet en water word,
moet vegtend verder tas
tot jy die stormwind weer voel
wat oor die brakland jaag van Afrika,
want een soos jy wat die groot son
uitgesing het bo die Vallei van Duisend Heuwels
gaan daardie laaste nag nie stil-gedwee in.
Terwyl die ander slaap,
is saam met my die piesangboom, die klip,
die kiepersol en wolk aan’t bid
vir jou, Sy dertiende dissipel,
wat weet van Hom in ieder ding en mens,
en in ‘n eensame verbond met angs en wee
die stryd om Sy heelal in vers na vers besleg.
Deur Sy genade en Sy meegevoel
begin in my jou rooi poinsettia brand.
LIED VAN DIE KINDERS
“Laat die kindertjies na My toe kom”
Die Joodse seuntjie
Wat sy armpies in die lug steek
Voor die SS,
Sy oë wyd gerek,
Op sy mou die groot, geel Dawidster.
“Laat die kindertjies na My toe kom”
die Viëtnamese dogtertjie
oumens-krom aan haar stok geklem
op die slagveld heen en weer
terwyl oor haar bors
‘n kruisie hang.
“Laat die kindertjies na My toe kom”
die klein vergete Ier
op ‘n sypaadjie in Belfast
tussen die bloed en bomme
wat opnuut sy land vrymaak.
Laat die kindertjies van Isreal na My kom,
Gevang in die kruisvuur by Ma’a lot –
Bang hasies in ‘n bos wat brand.
Laat hulle kom, die gevreesde koningskinders van jy volk
Wat die Romeine doodgesteek het
Toe in ‘n stal se stank van mis en bloed,
Ek self die Kind van Bethlehem was.
Verhinder hulle nie
Herodes
Dissipels
Soldate
Grootmense
FAMILIE
Soms oor die telefoon
Kan ek my nog verbeel dis sy
As jou gestaltelose stem
Vra hoe dit gaan.
Ek sien jou nie verdubbel
Tot die vreemdeling
Met wie ek onbekendheid
As verwantskap deel.
Vroeër het ons gepraat
Oor die lewe en oor God.
Nou: die skaarsheid van rooiwyn,
Die beste opwasmiddel vir die skottelgoed.